Dis ’n gewone dag by die werk, alles is klopdisselboom en dan… uit die bloute gebeur iets wat jou volgende salaristjek, jou jaarlikse bonus en jou fleksieverband geheel en al insluk. Dit het al met ons almal gebeur – die vrieskas is stukkend, die wasmasjien pak op, die motor raak onklaar en die enigste ding wat hom weer aan die gang sal kry is ’n nuwe enjin… en jy het géén NOODFONDS nie.

Liberty Adviesdienste gesels oor die voordele asook die moets en moenies van ’n Noodfonds.

Die basiese reël vir ‘n noodfonds is dat jy minstens drie maande se lewenskoste in ‘n spaarfonds moet hê. Dit skep ‘n belangrike finansiële buffer teen groot finansiële skokke soos wanneer jy jou werk weens personeelbesnoeiing verloor. Terwyl ’n lewensveranderende gebeurtenis soos om jou werk te verloor katastrofies kan wees, is dit dikwels die kleiner jakkalsies wat die wingerd verniel en jou in ’n finansiële verknorsing laat beland.

As jy nóú ’n mediese noodgeval sou hê en jou mediese fonds betaal nie al die rekenings ten volle nie, het jy genoeg spaargeld om dit te betaal? As jy in ’n motorongeluk is, sal jy die bybetalings kan bybring?

Die werklikheid is dat die meeste mense hulle kredietkaart as ’n noodfonds beskou; terwyl hulle aan die een kant skuld afbetaal, word hulle gedwing om nóg skuld aan te gaan as iets onvoorsiens gebeur. Dit is hierdie vrees om ’n noodfonds in stand te hou wat mense skrikkerig maak om hulle kredietkaarte tot niet te maak. Die meeste mense wat kniediep in die skuld is sal jou vertel dat ’n onvoorsiene uitgawe hulle oor die finansiële afgrond gestoot het. Al is jy daadwerklik besig om jou skuld af te betaal, is dit belangrik dat jy terselfdertyd ’n noodfonds opbou sodat jy nie weer in die skuld beland nie.

As jy glad nie ’n noodfonds het nie, sal dit jou lank neem om drie tot ses maande se lewenskoste te spaar – begin dus klein. Dave Ramsey, skrywer van The Total Money Makeover, se raad is om met net R1 000 te begin en dit dan tot R10 000 op te bou voordat jy meer op jou lenings begin afbetaal. Sodra jou korttermynskuld vereffen is, moet jy die noodfonds daadwerklik begin vergroot. Enige ekstra geld, veral meevallertjies soos ’n bonus of belastingterugbetaling, moet gebruik word om die noodfonds aan te vul.

DIE NOODREKENING

Die doel van die noodfonds is om ’n finansiële buffer te skep, nie om ’n aftree-neseier op te bou nie; dus sal jou beleggingstrategie baie anders wees as wanneer jy vir ’n langtertermyndoelwit spaar.

WAAK TEEN VERSOEKINGS

Hou die noodfonds in ’n aparte rekening sodat jy nie dalk in die versoeking kom om dit vir “noodgevalle” soos ’n vakansie of ’n nuwe partytjie-uitrusting te gebruik nie.

BESKIKBAARHEID

Terwyl jy nie wil hê die geld moet te maklik beskikbaar wees nie, moet jy dit in ’n noodgeval darem binne ’n dag in die hande kan kry – dit maak dus nie sin om dit in ’n langtermyn-vastedepositorekening te belê nie. Terwyl jou noodfonds nog klein is, sal jy beperk wees tot rekenings met ’n lae minimum saldo soos byvoorbeeld ’n spaarrekening by jou bank. Maak seker daar is geen maandelikse fooie op die spaarrekening nie anders sal dit jou nood-neseiertjie gou-gou uitwis.

HOË RENTE

Sodra jy ’n groterige bedrag (sowat R20 000) weggesit het, kan jy na opsies soos ’n geldmarkeffektetrust begin kyk wat ’n beter rentekoers as die deursnee-spaarrekening bied. Jy het steeds maklike toegang tot jou fondse en dit betaal binne 24 uur uit.

FLEKSIEVERBAND

Party mense verkies om hulle noodfondse in hul fleksieverband te spaar. Hoewel dit finansiële sin maak – omdat verbandrente verminder namate die uitstaande bedrag verminder – vervaag die lyne as jy terselfdertyd jou verband vinniger probeer afbetaal. Hoeveel van die kapitaal is deel van jou verbandterugbetalings en hoeveel is bedoel vir noodgevalle? Indien jy besluit om in jou verband te spaar, maak seker jy het wel toegang tot die fondse want nie alle verbande is fleksieverbande nie. Hou ook in gedagte dat indien jy jou werk verloor, die bank jou leningsvoorwaardes kan verander en die fondse in jou fleksieverband kan hou.