Dit is belangrik om jou testament van tyd tot tyd te hersien, veral indien ’n kind gebore is of indien daar ’n huwelik, egskeiding, dood van ’n begunstigde of eksekuteur, of erflating was wat nie deel van die bestaande testament uitmaak nie.

Hier is ’n paar wenke om te verseker jou testament is op datum en jou wense word tot op die letter uitgevoer:

  • • Indien jy jou bates aan jou gade en kinders wil bemaak, is dit nie ’n goeie idee om dit gelykop tussen hulle te verdeel nie – behalwe as jou boedel net uit kontant bestaan. Om ’n huis in die name van ’n gade en kinders oor te dra, kan problematies wees en tot ’n familietwis lei, veral wanneer die kinders trou. Dit is ook nie prakties om ’n motor aan vier mense te bemaak nie.
  • • Weerstaan die versoeking om jou begrafnisreëlings in jou testament uiteen te sit omdat die testament gewoonlik eers na die begrafnis gelees word. Lig jou familie liewer oor jou wense in terwyl jy nog leef.
  • • As jy minderjarige kinders het en jy het nog nie ’n voog aangewys nie, benoem ’n voog in jou testament. As jy geskei is en onderhoud betaal, moet jy hierdie verantwoordelikheid teenoor jou eksman of eksvrou en kinders in gedagte hou wanneer jy ’n testament opstel.
  • • Dit is baie belangrik om die persoon te identifiseer wat jy as eksekuteur van jou boedel wil aanstel. Dit is die eksekuteur se taak om jou boedel volgens jou wense te beredder en om na die beste belange van jou erfgename om te sien.
  • • Sorg dat jou testament op datum is deur dit gereeld te hersien.
  • • Maak seker jou testament is geldig. Die Wet op Testamente stipuleer duidelik die vereistes waaraan ’n testament moet voldoen. As jy onseker is, raadpleeg ’n kenner.
  • • Vermy opdragte soos dat alles bates verkoop moet word.
  • • Maak voorsiening vir die beskerming van jou erfgename, veral minderjariges en geldverkwisters. ’n Testamentêre trust is in die meeste gevalle die beste opsie.
  • • Erfgename moet duidelik geïdentifiseer word deur hulle volle name, van, verwantskap en, indien beskikbaar, hulle identiteitsnommer te verstrek.
  • • Let daarop dat sekere gelde soos uittree-annuïteite, pensioene en groepversekering buite die boedel betaal word deur die Raad van Trustees van die fonds of skema en die voordele vorm nie deel van die boedel. Dieselfde geld polisse wat gesedeer is of begunstig is. Jy kan net die voordele wat deel van jou boedel vorm in jou testament bemaak.
  • • Die woord “wens” moet ook korrek gebruik word sodat daar by die eksekuteur geen twyfel bestaan oor wat jou bedoeling is nie. Indien jy byvoorbeeld die wens uitspreek dat die bates in jou boedel verkoop word, kan daar afhangende van die presiese bewoording soms twyfel wees oor of dit ’n opdrag of net ’n wens is. Indien die woord “opdrag” gebruik word, en afhangende van die presiese bewoording van die spesifieke bemaking, behoort daar geen twyfel te wees dat die eksekuteur die opdrag moet uitvoer en al die bates moet verkoop nie.